Eendersheid en andersheid.
Soos ek uitstap by daai deur op daai dak ontmoet die droë hitte my.
My jeans kleef teen my boude na die vlug.
Om my niks...
Links is ‘n jong heuwel met ‘n groenigheid bo-op. Voor my ‘n droë kloof aar wat strek tot by die Jordaan-rivier. Regs van my Jerigo en ‘n krag paal. Een van daai grotes wat uit staal gemaak is wat soos mannetjies lyk wat staan.
Ek kom sit die aand op daai dak en besigtig versigtig die Midde-Ooste slinkse son sak. Slinks want enige iets wat so mooi is moet stout wees. Die son glans partikels teken op ‘n besonderse manier in die Midde-Ooste. Vra maar mense wat al daar was. Hier sit ek nou met hierdie mooi wat by my brein in filtreer deur my siel vensters terwyl my siel self sak oor die pyn wat dit swaar maak. So swaar dit verdrink amper in die hitte.
Ek onthou so goed toe ek in daai kaal woonstel instap hoe leeg dit daar was. Geen meubels, speelgoed of tydskrifte nie. Dit was nie al wat leeg was nie. Geen hoop, vreugde of vriendeliheid in daardie harte nie. Net ‘n lied van pyn en leed.
Ek mag niks sê van die hoof Een wie my hoop gee nie anders onthoof hulle my. Die Pappa sit en gesels met die tolk. Ek sien sy woorde is hartseer en wanhopig. Geen toekoms. Geen minuut na die huidige een nie. Sy vrou gooi vir ons Pepsi. Die gas is al af. Hy praat hard vir ‘n oomblik en ewe skielik draf daar ‘n piep klein dogtertjie en haar twee beertjie boeties uit ‘n kamer uit en uit by die voordeur uit sonder om ons te groet of te kyk.
Hy vertel verder in sy taal hoe hulle moes vlug van hulle dorp af. Vlugtig geveg soos ‘n vlugteling. Sy vrou sit stil in die hoek en luister. Wanneer sy praat is haar stem hees. Amper asof sy heel aand trane gesluk het. Ek sal nie weet hoekom nie, maar dit klink so. Hy sit daar met sy tuit mond. Sy onderste lip pout half heeltyd met ‘n punt reg voor wat bymekaar kom soos ‘n kloof. Sy wenkbroue lyk soos ‘n akuut en ‘n gravis wat probeer hande vashou en sy ore se lelle hang soos die vrug van ‘n Mosambiekse Klapperboom. Sy vel uitgedroog soos die stam. Sy neus druk sy oë uitmekaar uit soos ‘n bergreeks wat probeer uitbars. Sy sjokolade pupille plons pleidooi soos die water opgaar in daai mandjie-poele.
Hier hardloop sussie en die twee beer-mannetjes terug in die huis in met vars Pepsi en ‘n pakkie koekies. Ek kan nie die flavour van die koekies sien nie want dis in Arabies. Die seuntjies laat my dink aan Azerbaidjanse woud beertjies. Weet nie hoekom nie. Ek neem aan dis hoe bere lyk in Azerbaidjan.
Die een beer kom bied vir my ‘n snaakse geur koekie aan en staan eers ‘n ruk stil voor my. Ons pupille dans. Hy sê iets in sy taal. Ek dink hy bied vir my ‘n koekie aan. Ek steek my hand uit. Hy syne. Sy naels is lank. Klein. Hy’s seker 5 of 6 jaar oud. Hier staan ek en die beertjie en kyk mekaar uit voor ek kans kry om die koekie te neem. Dis vreemd, maar lekker. Ons hou aan in stilte vir ‘n rukkie.
Ek let ‘n vreemde ding op. Terwyl die ma stil sit in die hoek met haar hees stem agter tralies sien ek die klein beertjie se tuit mond. Sy onderste lip pout half heeltyd met ‘n punt reg voor wat bymekaar kom soos ‘n kloof. Sy wenkbroue lyk soos ‘n akuut en ‘n gravis wat probeer hande vashou en sy ore se lelle hang soos die vrug van ‘n Mosambiekse Klapperboom. Sy vel uitgedroog soos die stam. Sy neus druk sy oë uitmekaar uit soos ‘n bergreeks wat probeer uitbars. Sy sjokolade pupille plons pleidooi soos die water opgaar in daai mandjie-poele.
Nes sy pappa beer sin.
Eendersheid en andersheid.
Sy en sy Pappa se eendersheid bots met my andersheid.
Met die vreemde Arabiese koekie in my hand, wat ek later gesien het in Sjina vervaardig word, vra ek hom in Afrikaans: “Boeta, wil jy nie maar saam met my huis toe kom nie?” Hy draai vervreemd net sy koppie met die pakkie koekies nog in sy hand na sy Pa wat net daar sit met sy tuit mond en staar na ons. Sy oor lelle verstaan nie. Hy draai terug en ons tuur diep in mekaar se oë terwyl sy sussie die kospakkie begin uitpak.
Ek is terug op daai dak.
Links is ‘n jong heuwel met ‘n groenigheid bo-op. Voor my ‘n droë kloof aar wat strek tot by die Jordaan-rivier. Regs van my Jerigo en ‘n krag paal. Een van daai grotes wat uit staal gemaak is wat soos mannetjies lyk wat staan.