Warrelwindkind.
Wakker word Afrika kind
Ons staan hier in `n warrelwind.
Trek uit jou skoene want hier brand `n bos
Hier’t hulle jou gevind en hier moet hulle jou los.
Trek uit jou kleed van voorreg
En kom help hier met die geveg.
Moenie my sê dat jy my lief het nie
Bewys vir my dat jy nie `n dief is nie.
Hier kan ek met jou andersheid vereenselwig
Jou voorreg was nog altyd net `n klug.
Wys vir my jou liefde sonder dade
Dan wys ek jou hoe dit lyk met mense sonder grade.
Hier spruit die protes uit in `n revolusie
Die revolusie word `n visie van tradisie
Hier sit ek alweer sonder liefde en kritiseer voor die televisie.
Om deur liefde te protesteer
Dit is ons land se grootste eer.
- Wynand Marc Breytenbach
POETIC NUANCE
Die kind
soms voel ons ons is net die kind
die kind wat niks regkry nie
die kind wat misluk
die kind wat vloek
die kind wat jok
die kind wat niemand oor omgee nie
die kind wat as hy dood gaan sal niemand hom mis nie,
dit was so
jy was die kind
toe het Jesus op die kruis kom sterf
Jy is nou die Kind wat alles reg kry
nooit misluk nie
die Kind wat die waarheid praat
die Kind wat omgee
die Kind wat as Hy dood gaan gaan God Hom met wye arms van genade omvou
hom nooit laat gaan nie
Jy is nie die kind nie
Jy is God se Kind
-Benjamin Venter
Wandel
Ek wandel alleen in 'n paradys
Gevul met haat en verwyd
Lugkastele, rooi sambrele
Groen werwe en kerk-kleure
Ons beskaafde mense leef in die reële
Matigheid voor oë
maar jou oë loop oor
Met omstandighede
Wat jou saggies vermoor
In die valse paradys
Word ons onbewustelik oud en grys
Terwyl die parades ons probeer smoor
Hier is geen vryheid
Net omstandighede wat ons almal uitmoor.
- Miaan Van Zyl
Preutse Pilare
Ek is nie sommer iemand wat sanik oor dinge wat behoorlik en wat nie behoorlik is nie
Daar is sulke preutse pilaarbyters
Ek is nie sommer iemand wat sanik oor dinge wat te vrolik is nie
Daar is sulke preutse pilaarbyters
Ek is nie sommer iemand wat te krenterig is met my hart uit deel nie
Daar is sulke preutse pilaarbyters
Ek is nie sommer iemand wat iemand anders se hart steel nie
Daar is sulke preutse pilaarbyters
Nee ek sien myself meer as ‘n pitryke soet vrug
Iemand wie ander se gemoed wil lig
Iemand wat ‘n vrybuiter is wat om ‘n kamp vuur sal sit en keuwel
Wat na die sonsondergang wil gaan kyk op ‘n koue dag op ‘n heuwel
Maar tog soek ek iets
‘n slentersjiek turksvy om vas te steek aan my
ek wil terugkeer na my loopwêreld Bellville, Stellenbosch en Franschhoek
dis vir jou wat ek soek
Ek wil die kronkel draai pas aandurf met jou
Jou help om aan jou drome te bou
Na die blomme gaan kyk in velde waar daar lanklaas iemand was
Kom uit agter die glas, pak jou tas en kom stap kaalvoet saam met my op die groen groen gras.
Hoor jy my siel?
Elke herinnering roep die kreune voort
Dit gooi my heen en weer en dan oorboord
Wat is dit wat ek moet doen?
Wie is dit met wie ek moet versoen?
Help my O Heer om agter te kom wat om te doen
Sodat ek met U hart kan versoen.
- Wynand Marc Breytenbach
Straatloper
Ek het iemand ontmoet
Met dieselfde pyn
En soortgelyke seer
Hy vermis ook 'n huis
En 'n deel van sy hart
Is by 'n ander
Ons is haweloos
Met 'n dak oor ons kop
En 'n bed om op te rus
Ons is straatlopers
Met 'n huis
Wat heeltyd van ons af vlug
So op die straat sal ons woon
Wandellend
Al agter ons huis aan
- Almero Welgemoed
Druppels
Druppels.
Tone.
Dans.
Ek weet nie.
Druppels;
want hulle val waar hul wil.
Tone;
want niemand s'n is perfek nie.
Dans;
want wie doen dit sonder 'n glimlag?
ek weet nie waarom nie.
druppels, vryheid.
tone, uniekheid.
dans, vroklikheid.
waarom dan nie?
- Charlotte Louise Marais
Soek.
Soek sal ek soek vir iemand wat
Saam met my staan in die donderweer
Wat hard klop aan my harts deur
Aan my hand vat en dan weet
My naaktheid sal kleed
Saam met my in die veld sal stap
Saam met my goed sal sê soos fliep vlop flap
`n Pendoring in my vlees sal wees
Dat ek sal wees dit wat ek gemaak was om te wees
Soek sal ek soek vir iemand wat
`n Ontkiemer van hoop is
Wat gedoop is
Deur geloop is
En genoop is
Om hier `n verskil te maak aan gebroke harte
Om aan te hou veg teen die wêreld se smarte
Soek sal ek soek vir iemand wat
Aan my hartsnaar kan tokkel
Wat deur my kan sien en my maak borrel bars en vonkel
Wat saam met my sal stap op hierdie pad wat kronkel
Kom spuit my in met bloed van lewe
Sodat ek altyd na jou sal strewe
Om te dink dat jy nie bestaan nie laat my bewe
Wie gaan my wys waar jy is?
Sy’t my met haar hart besmet
Jesus, gaan jy my kom red?
Soek sal ek soek vir iemand
Soos jy
Wat my verlei
Liefde aan my hart vas kan brei
`n stilte aan my gedagtes kan weef
Deur my gedagtes kan sweef
My weer leer om te leef
Soek sal ek soek vir liefde.
Soek.
- Wynand Marc Breytenbach
Jou song
(vir haar en Hom)
Ek wens ek kon jou laat voel het
Wat hier binne in my aangaan
Maar ek weet jy sal dit nooit kan voel nie
Ek wens ek kon jou laat verstaan het
Wat hier binne in my aangaan
Maar ek weet jy sal dit nooit kan verstaan nie
Jy sal my nie kan wys waantoe om te gaan nie
Jy sal my nie kan sê na wie om uit te roep nie
Jy sal my nie kan sê wat om te glo nie
Jy sal my nie kan wys wie om lief te hê nie
Ek wens jy kon my laat voel het
Wat daar binne in jou aangaan
Maar ek weet ek sal dit nooit kan voel nie
Ek wens jy kon my laat verstaan het
Wat daar binne in jou aangaan
Maar ek weet ek sal dit nooit kan verstaan nie
Sal jy my nie kan wys waantoe om te gaan nie
Sal jy my nie kan sê na wie om uit te roep nie
Sal jy my nie kan sê wat om te glo nie
Sal jy my nie kan wys wie om lief te hÍ nie
Jy laat my voel of ek by die huis is
Jy laat my voel of ek teen jou kan lê
Jy laat my altyd sê wat ek wil sê
Jy laat my voel of ek als gekry het wat ek wou hê
-Wynand Marc Breytenbach
Verbruikerskultuur.
Dis hier waar ek my hart uit verhuur
Terwyl ek deur die winkel venster gluur.
Ons het vergeet om te kyk hoe plante groei
Terwyl daar `n ongeduldigheid in ons harte broei.
Dit verkoop vals waarhede aan ons siele
“wees gelukkig met hierdie tipe wiele”.
Ons word gebreinspoel met perfektheid
Terwyl die kruis se imperfektheid op uitverkoping is.
Ek kort hierdie skoene om my gelukkig te maak
Gee dit vir my nou of ek sweer ek sal staak.
Luister wanneer ek jou sê hierdie skip gaan sink
As jy jou hart daar neerlê gaan jy verdrink
In jou eie gierigheid
Geen geregtigheid.
Ons word gebreinspoel met perfektheid
Terwyl die kruis se imperfektheid op uitverkoping is.
Lyk net so, sê net dit en koop net daai
Dis hier waar jy jou hart verraai.
Ons soek dit wat ons nie kan kry nie
“Ek gaan nie cool wees as ek nie daarin ry nie, met haar gaan vry nie, daai kan kry nie”. Drink net hierdie tipe bier
Dis nou jou glans uur.
Ons word gebreinspoel met perfektheid
Terwyl die kruis se imperfektheid op uitverkoping is.
Wanneer gaan ons siele ooit kan rus
Terwyl die onus op ons is
Sal ons ooit hierdie verbruikers-vuur kan blus?
Om mekaar te leer wat is liefde en wat is wellus
Wat ons wel is is diere
Wat nooit sal ophou soek na betekenis, liefde en groter skure
Ons wil maan toe maar ons ken skaars ons bure.
- Wynand Marc Breytenbach
Lyne.
Hoe is dit dat ons wêreld kaarte koop en dit mooi noem terwyl daar grenslyne is wat ons van mekaar af skei. ‘n Struktuur wat al soveel mense se dood veroorsaak het.
So trek ons almal ons eie lyne. Lyne wat mense buite hou en myself beskermd binne. Lyne wat kerf aan ander. Lyne van myne en syne.
So sny ons soms ook lyne. Lyne op ons arms wat inniglik diep sny aan die weefsel waarvan ons gemaak is. Stof wat skei en partikels wat uit pars uit ons are.
So leer ons ook dat ons oor die lyn kan trap. Té ver kan gaan en vergeet waar ons laas die lyn getrek het. Dié lyne bring pyne.
Hoe kan dit wees dat jy jou poorte oopmaak vir iemand soos ek? Dat jy die lyne van ‘n huis om ons wil trek.
Ons is lief vir sommige goed omdat dit waardevol is, maar dan is daar sommige goed wat waardevol is omdat ons dit lief het.
Ek wil jou alles gee. Ek sou jou alles gee. Ek het jou alles gegee.
Vir altyd sou te kort wees vir ons.
Kom trek ‘n lyn om my hart en noem dit huis.
-Wynand Marc Breytenbach
Oë.
Pupil plons pleidooi
Mikro bewegings verlief
Hartklop as die ritme
Oë wat dans met harte
Growwe groewe groei
Hoop ontkiem
Bliksem deur die krake
Reën in my oë
O, my siel
dis hier waar my hart sal rus
In die seer wat jou troos kan blus.
- Wynand Marc Breytenbach
Hemel en Aarde
Waar die deurgaans gekraakte berge klowe en kranse vorm
Dis vol van vrede hier
Rustigheid is die oorpronklike norm
Vreugde bars by die klippe af
Opwinding en afwagting vorm ‘n borrelende waterval
Die water tuimel die afgrond in en die reis van ‘n pas gebore rivier begin
Landerye verspreid oor die goue valleie wat
Stadig en seker in my hart in kruip
Soos die mossie wat op die vloer rond skarrel opsoek na ‘n dooie takkie om te gryp
Almal soek na hemel op aarde
Maar nou in hierdie presiese oomblik heg ek waarde aan aarde
Prentjie langsaan my
Dood eenvoudig, maar steeds
Lewes kompleks.
- Miaan Van Zyl
Bewaar jou hart.
Bewaar jou hart, my lief
Vir die een wat kom soos 'n dief
'N hart wat klaar gebreek is
Is een wat reeds lief gehad het
Dis nie al wat saak maak nie
Iemand wat aan jou hart raak nie
Gee vir lewe 'n kans
Om bietjie met jou te dans
Maar belowe my,
Jy bewaar jou hart, my lief.
Beweeg net aan
En kyk 'n slag op na die maan
Nagte wakker, en verlang
Die idee van jou maak my bang
"Hou op als oordink"
Jy't my belowe ek sal nie verdrink
Jou spore sit nog diep in my hart
Letsels gelos, wit en swart
Maar ek leef vir nou
Fokken vergeet van jou
Nog baie tyd vir liefde vind,
Maar vir nou wil ek my enkels bind
Aan God se pad
En ophou smag
Bietjie, nee baie meer lag
En my hart bewaar
Want mooi liefde, is raar.
- René Jooste