Gedagtes van 'n Weeskind
Met ons inry by die grenspos naby Wepener verwelkom Lesotho ons met huilende hael en dik druppels. Dis nie koud nie, maar dis nat. Die tannie by die doeane skel my eers uit omdat ek kaalvoet in die reën loop en toe omdat ek met my kaal voete hardloop op die nat vloer. Ek glimlag vir haar en sy lag een van daai slinkse laggies soos ‘n Ma vir haar kind gee asof te sê sy geniet dit dat ek dit so geniet. Dink sy’s jaloers.
Na ‘n ompad, verby verskeie Basotho donkies, omdat die grond te nat is en ‘n vinnige stop by ‘n vulstasie arriveer ons by die kinderhuis.
Niks het my al so seer gemaak soos jy nie. Die jy binne jou waarmee jy heeltyd opgeskeep sit. Die jy binne jou wat soos ‘n turksvy almal om jou seermaak. Die jy binne jou waarvan jy so min hou. Die jy binne jou wie jy weet ‘n beter jy kan wees. As jy maar net geweet het wie jy is dan sou jy nie jou so seer gemaak het nie. As jy maar net vir jou so lief gehad het soos jy sê jy’t ander lief. O’ my siel waarom is jy so neergebuig?
Hier sit ek in ‘n kinderhuis en kyk die Jesus film in Sotho. Sien alles. Verstaan niks. Die donderweer skribbel figure op die muur met blits deur die vensters terwyl ek kyk hoe die wit Jesus se Sotho woorde glad nie by sy mond se bewegings pas nie. Gemorsde pap op die vloer. Gange wat ruik soos ou herinneringe van huis. In ‘n oomblik verskyn die gevoel van huis in my toe hy op my skoot kom sit met sy verstopte snot neus en geskeurde geel broekie. Hy ruik na verlange.
Hy vra my hoe lank vir altyd is. Ek vra hom hoekom hy vra. Hy sê dis hoe lank die mense gesê het hy hier gaan moet woon.
Agtergelaat soos herfsblare op die gras-grond verlate strate.
Daar is iets binne jou wat my baie irriteer van myself vertel iemand my eendag. Wit geryp lê die berge bedek om my hart. Al gister se sade is dood met die ryp-koue. Die skade van ryp. Ek het vanoggend besluit om anders na die wêreld se vergete velde te kyk terwyl die blou lig swaar op my hart gelê het. Die verlate hartsvalleie verfrommel met vreemde huis-verlange. Daar waar stof en sterre bymekaar kom lê my hart op ‘n berg en rus. Dit skud die roes af soos dit bloed pomp na ‘n lang tyd. Nuwe winde in die hart seile.
Die harde hart sal jou maak sink my kind. Ek verstaan nie dat jy my vrees ken en steeds kies om by my te wees nie. Ek verstaan nie dat jy my seer ken en steeds kies om by my te wees nie. Al ken jy my storie kies jy om by my te wees. My storie is waar stof in ‘n verhaal verander. My storie is musiek note wat vergeet is in die heuwels fantasties. My storie is een van vrees dat ek te min sal wees. My storie is een van ‘n klip hart wat kliphard bedremmeld agtergelaat is.
Bedremmeld agtergelaat in Lesotho op ‘n heuwel vol sneeu.
Al ken jy my valleie kies jy om by my te wees.
Al ken jy my valleie kies jy.
Al ken jy my valleie.
Al ken jy my.
Al ken jy.
(Aan enige iemand wat al ooit gevoel het soos 'n weeskind)