Seringbome en Houtbakkies
My ouma het my geleer om dit te doen. Ek en sy het uit hout bakkies roomys geëet onder die Seringboom in haar tuin. Daarna het sy die spreiers aangesit sodat ek daar deur kan hol wanneer dit warm is. Sy’t my geleer om na die sterretjie te kyk wat die naaste sit aan die maan. Sy’t my geleer om seker te maak ek trap nie op die miere terwyl ek oor die pad loop nie. Sy’s ‘n lelie tussen die veldblomme.
Ek dink dis haar skuld dat ek die mooi dinge soek.
Onder die pienk-oranje wolk-besmette Bellville lig in Groenvallei het die jaart se hekkie gelei na die huis-snoepie langs die parkie. Daar het ek my goudvis begrawe. Regs van die hekkie. Ek het so nou en dan ‘n R5 uit my ouma se beursie gesteel. By die snoepie het ons van daai oranje lekkers gaan koop wat lyk soos appelkosies. Hard buite. Sag binne.
Smiddae na skool kom ek huis toe met ‘n lift. Ek hoor eers die trein wat verby gaan en dan ruik ek die wilds pastei van ouma Lienie. Dié het weer haarself heeldag afgesloof voor die stoof. Sy sê ek kan maar die orige korsie eet wat afgeval het in die oond voor ek in die straat af gaan speel. Sy’t altyd oumatjies-onner-die-kombers ook gemaak. Dis viennas met deeg om. Sy’t seker gedink die naam gaan maak dat ek daarvan hou. Dit het gewerk.
Voëlvlei straat P58. Daar het ek my gelukkigste en swaarste dae gehad.
Daar het ek een oggend wakker geword sonder ‘n pappa. Daar het een middag by die huis gekom toe wag daar ‘n splinter nuwe rooi fiets vir my. Daar het ek saam met my vriende hulle ouers se stompies gesteel en dit gaan rook in die parkie. Daar het ek met my boeties gestoei op die krismis bed voor die TV. Daar het ek en my maats sy pa se boek met kaal vroue in ontdek. Daar het ek agter my ma se blad gelê en 7 de Laan kyk. Daar het ek gesien hoe baklei die mense in die strate. Daar het ek op my ouma se skoot aan die slaap geraak. Daar het ek forts gebou met die tuinstel saam met vriende. Daar het ek my eerste keer baklei met ‘n vriend. Daar het ek geleer om nie die bad te vol te tap nie.
Herinneringe van die gesig van my ouma. Haar gesig was soos die melkweg en ek het daarvan gehou om na sterre te kyk. Vandag is dit net ek wat nog hierdie herinneringe oor het. Eveline Verster kan nie meer baie lank terug onthou nie. Sy onthou net dat ek haar kleinkind is.
My oumatjie. Jy kan nie meer onthou nie. Nou sal ek maar vir ons albei onthou.
“Leer te beseffen wat je hebt voordat de tijd je laat beseffen wat je had” – Rumag
Aand.
Saggies soos 'n fyn deursigtige sluier, het die aand oor die landskap toegesak... die skadukolle rek langer en breër...en allengs is daar niks meer van die dag te bespeur nie. ‘n Sagte aandwindjie, swaar belaai met die soete geur van jasmyn en kamferolie, swewe oor die buite, en roer die verdroogde halmpies van die geel gras-saad...
Skugter, half-huiwerend loer die groot blink maan bokant die verste bultjie uit, en staar met stille-berusting oor die stil geheimsinnige nagtoneel, hieronder waar die halmpies saggies roer, en die donker boomtoppe saggies fluister...
Stadig gly die maan die wye sterbesaaide hemelruim in...vér weg, bleek geel strek die skoonheid van die bekoorlike maanligtoneel met sy donker geheimsinnige skadu’s...
Die gedempte gekwaak van veraf paddatjies, die eentonige getjir-r-r van ‘n kriekie hier op die stoep, nou en dan die treurige, verlate geblêr van ‘n gestoorde lammertjie, en eenmaal die veraf geblaf van ‘n hond, is al waardeur die verruklike, stilte skoonheid sy aardse herkoms verraai...
Bokant die verste bulte wink, en glinster die aandster helder en aanlokkend, en die nagbries fluister ‘n sagte boodskap aan die breedlaggende maan.
-Eveline Burger (std. VI, 1945)