top of page

Pers Kondome, Dokkels en ‘n stoep.


Vroeër jare sou ek gedink het hierdie is moer vreemd. Nou dink ek dis gemeenskap. Wie sou nou ooit kon dink dat pers kondome, dokkels en ‘n stoep mense wat so anders is van mekaar, mekaar kan verbind, maar tog is dit wat ek beleef het.


Hier sit ons met die regering se pers kondome wat die plaaslike kinders omskep het in gewere. Die son bak die Seringboom-bessies hard en dan sit hulle dit binne in die kondome. Hulle noem die bessies korrels. Nadat hulle die bo-kant van ‘n bottel af gesny het sit hulle die kondome só daaroor dat hulle ‘n tipe kettie gevoel skep deur die opening van die afgesnyde bottelnek. Hulle skiet mekaar met die korrels deur die kondome soos gewere te gebruik. Dis gans te moeilik om dit te verduidelik in woorde. Glo my net. Hulle kry dit reg om mekaar te skiet met Seringboom-korrels uit pers kondome uit. Kan jy nou dink wat Cyril Ramaphosa nou sou sê oor dit nadat hy dit vroeër bekend gestel het in die parlement. Hy’t juis gesê die vorige Choice kondome maak te veel geraas.


Hiérdie maak ook geraas. Nadat die korrel jou op jou boud tref wanneer die kinders jou daarmee skiet.


Daarna kom die dokkels uit. Hulle kry nie genoeg van die dokkels nie. Dokkels is albasters. Hulle kry elkeen ‘n sakkie met hulle aankoms van Bergsig se kant af. Bergsig is waar hulle woon. Ek was bang hulle begin die dokkels gebruik om mekaar te skiet met die pers kondome wat soos die pers Fizz Pop stokkielekkers ruik. Hulle het nie. Hulle het met die dokkels begin speel in die Karoo-tipe sand. Een of twee vloek woorde soos hulle mekaar se dokkels rond skiet.


Intussen het ek my posisie ingeneem op die stoep van die ou Standerd bank opsigters huisie wat teenaan die ou Standerd bank vas gebou is. Dis nou die Calitzdorp museum. Aardige ou plekkie. Mooi stoep wat om meeste van die huisie gaan. Droë tuin, maar mooi plante wat die huidige mense daar geplant het. Hulle kyk mooi na die plekkie. Die kinders speel juis in dié tuin. Ek kan alles besigtig van hier af.


Ewe skielik hoor ek die kerk klok van oorkant die pad. Hy lui elke vyftien minute op ‘n ander deuntjie. Ek dink die klok is al moeg gelui so hy maak elke kwartier maar ‘n nuwe klingel op. Jy kan hoor die ou klok se tonggel lui al jare deur die strate van Calitzdorp, maar hy lui nie meer op die oorspronklike deuntjie nie. Dié het lankal verander. Vals klok, regtig tyd.


“Kom Bobby, ons sny gou jou hare?” vra die transformerende ingenieur wat saam met sy vrou daar bly vir ‘n jaar om die plaaslike kinders lief te hê. Bobby is nie sy regte naam nie, maar die kinders noem hom dit omdat hy vir hulle soos ‘n Bobbejaan lyk. Hy sit stil op die stoep van die ou Standerd bank op ‘n klein plastiek stoeltjie en wag dat sy hare gesny moet word. Wanneer die haar knipper by sy nek kom dan giggel hy liggies omdat dit kielie. Na die tyd word sy kop afgespoel en gewas. Hy stap toe sommer ook daar weg met ‘n ekstra paar klere wat hulle vir hom uitgehou het. Hulle het sy skurwe beentjies ook in geroom met Lux room.


Saam met die man en vrou is daar ook ‘n toekomstige juffrou wat vir ‘n paar weke by hulle woon terwyl sy haar prakties doen in Bergsig by een van die skole. Sy ken elke kind op hulle naam omdat sy al jare met Stellenberg NG Kerk daar kom uitreik. Blykbaar kan die jong mense nie wag dat Stellenberg elke jaar daarna toe kom nie. Iets om te doen is beter as tennisbal speel in die strate, verseker!


Die Cumulus-wolke het hulself op die hemelruim skuins eenkanttoe bo die dorp neergevlei. Smiddae kom maak dié wollerighede hulle buiging in die Karoo. Almal bid dat die sluise van die wolkehemel oop sal gaan behalwe die kinders in die jaart van die ou Standerd bank wat nou ‘n museum is waar hulle mekaar met pers kondome, wat soos pers stokkielekkers ruik, skiet, mekaar se dokkels afrokkel en met die juffrou en haar twee transformerende ingenieurs vriende baljaar.


Hulle kort nie reën nie, hulle kort liefde.

Vir die mense wie hulle gemak opgee omdat Jesus se liefde vir skurwe mense hulle fassineer.

Vir die mense wie ook aan hulself dink as skurwe mense.

I. en A. & L.


bottom of page