top of page


Jou oë laat my dink aan Calitzdorp se strate.

Verlate. Lank terug se herinneringe.

Ons almal wonder maar oor dieselfde dinge:

Is ek goed genoeg en gaan hulle van my hou.


Almal in die gemeenskap ken jou naam. Niks keer hulle om dit te skree wanneer jy verby ry nie. Sonder hulle voel jy soos niks. Elkeen wil bietjie praat en wys wat hulle doen. So stop daai wilde vrou jou ook net toe uit ry op die kronkelpad oppad dorp toe. Sy wil aan jou klere se soom raak. Sy wil seker weer hoor of jy een van haar kinders wil aanneem. Jy sal graag, maar die samelewing keer jou. Nes dit my keer om jou te vra of ek jou hart kan leen en jou nabyheid bietjie kan ervaar. Ek wens jy wil my toelaat om jou so vas te hou en te koester soos jy hulle doen.


Of is dit ek wat jou moet toelaat?


So sit jy by die kombuistafel terwyl ek kos maak. Ek loer so nou en dan om my skouer om te kyk of jy nog na my kyk. Die kos was maar middelmatig, maar jy hou in elk geval nie van deftige dinge nie. Dié manna is genoeg. Eenvoud en diepte is wat jy voor smag. Veral omdat jou pa jou so seer gemaak het deur nie die beker by jou te laat verbygaan nie. Soos hulle geskei is so is jou hart ook van hom af geskei. Daai kruis se splinters sit nou nog in jou rug, maar jou sagmoedigheid en jou stil gees sal nietemin ander koester.


Jy sal vir hulle 'n hout skuiling bou met al die orige splinters.


Nog nooit het ek iemand se hart so beleef nie. Iemand wat so graag in mense se andersheid wil in bliksem nie. Jy kyk hulle vinnig in hulle oë en weet dan dadelik of hulle tik gerook het of nie. Jy gee vir hulle elkeen ‘n pakkie dokkels. Dokkels is albasters. Ek weet nie of hulle meer opgewonde is oor die dokkels of jou glimlag nie. Albei bring hoop. Nes jou oë.


Elke keer as ek die NG kerk se vals klok hoor herinner dit my aan die ware kairos wat ons bymekaar uitgebring het. Ek wens jy kon jou ontmoet en sien wie ek sien jy is. Jou hart omvou die andersheid van ander en jou oë skep spasie vir al my foute. Jy vat aan hulle asof hulle nie vuil is nie. Asof hulle velle nie skurf is nie. Die droë velle en snot neuse maak jou opgewonde. Jou wang teen hulle sin. Geen grillerigheid vir jou nie.


Dis om jou wat ek my arms wil vou. Die rowwe dinge wil onthou. Als wat ek berou. Jy vergewe gou-gou. Daar’s geen pou dans hier nie. Ek sien deur jou glimlag. Daar’s pyn wat jy wegsteek. Pyn van jouself, maar meer as dit is die pyn van soveel mense daar vir wie jy nog altyd sterk voor moes wees. Niemand het ooit daaraan gedink om jou te vra nie.


Hoe was dit toe hulle jou aan daai kruis vas gespyker het?


Al wat die kruis gedoen het was om jou hoog genoeg op te lig dat jy almal se pyn van daar bo af kon sien. Die splinter-krake van die kruis het gemaak dat jou bloed in die krake van mense se harte kan insyfer. Jou kaak wat aan jou borsbeen raak het gemaak dat almal nou aan jou kan raak.


Toe sê Hy aan hulle: ‘Luister nou mooi. As julle een van my vriende, al lyk hy vir julle ook hoe onbelangrik, met ’n glas water of ’n stukkie brood of ’n besoek in nood gehelp het, het julle My so gehelp. Ek herhaal, wie my vriende help, help My.’ – Jesus Christus (Mattheus 25:45)


bottom of page