top of page

Ek wens jy kon jou ontmoet

Ek wens jy kon jou ontmoet.

Jou glimlag verly

Jou letsels vertel jou pyn

Die donker wat bly

Keer die lig wat uit jou oë skyn

Ek wens ek kon jou aan jouself voorstel. Jou oë verruil vir die sonstraal hoop waarmee mense om jou na jou kyk in die goue uur. Daar’s ‘n Afrika op jou vleis getatoeëer en ‘n nuwe lied op jou hart uit gegraveer.

Wat maak jy?

Soek jy dalk vergifnis?

Waar kyk jy?

Die einde voel so naby...

Jou storie verskyn aan my soos goue sonstrale deur die grondpad-stof. Waarna soek u tog vandag weer? Het u vergeet dat u nie hoef perfek te wees nie? Die wettiese tempel model beheer u lewe terwyl die Jesus model jou lankal vry gemaak het.

Onder jou mou

Is daar vrae wat aan jou arms klou

Liefde omvou

Gee jou rede om steeds vas te hou

Terwyl jou gesig agter jou kril hare met my wegkruipertjie speel sien ek die rou-wond op jou vleis. My vingers streel oor die letsel. Die velletjies is droog. Die ruppels herinner my soos ‘n spoed hobbel om stadiger te gaan. Soos ‘n koffieboon ‘n slootjiepens het so sit die littekenweefsel aan jou soos ‘n mopanie wurm.

Maar jy kan nie sien

Dat jy nog altyd beter verdien

Maar jy salie weet

Dis God wat ek in jou oë sien

Die mooiste is dat jy dit nie weet nie: Dat jy mooi is. Heilig beteken nie vroom nie, heilig beteken jy weet jy’s gebroke. Jou voorbehoedmiddel is om jou letsels te vermy, maar dis in jou letsels waar jy die rigting na jou hart sal kry. Eendag gaan jou mooiheid uit jou uitbars soos ‘n lemmetjie-groen blaar-ogie op ‘n boom in Victoria straat.

Jou wonde brand

Diep gekerf daar in jou siel

Donker man se hand

Sny oop en bring verniel

Die probleem is nie die nuwe goed nie, maar om ou dinge weer gewoontes te maak. Elke keer kou jy net dieper aan jou naels. So dat dit nou net rou stompies is waarmee jy die pad vorentoe aanwys. Die wond genees net genoeg voor jy weer begin juk.

Jy’s nie minder

Weggestoot en verniel nie

Jy verdien meer

As die skuld en seer wat jy blameer

Onthou net dat jou geloofsgewoontes jou nie gaan red nie, dis Jesus wat jou red. Onthou net dat jou kompleksiteit jou gaan vet maak, soek eerder die simplisiteit in die deurmekaarheid.

Jy is sterker

Jy is meer

Sit neer die loop van jou geweer

Die skakering van hoop is soms dof en fyn. Diep gekerf daar in jou siel. Hardloop agter plesier aan soos ‘n blinde konyn. Deur jouself in die voet te skiet gaan maak dat jy nie kan loop nie. Leer liewer om te snoei in plaas daarvan om af te sny.

Vir enige iemand wat al ooit gesukkel het om te word wie hulle weet hulle eintlik moet wees.

Vrae wat klou is geskryf deur Dewald “the Hoff” Hoffmann van die lukrake en algemene billike orkes Ek, Jy & Corné.

Gaan lees van Dewald se dinge op www.travelingfred.wordpress.com


bottom of page