top of page

Grondstowwe


Grondstof.

Hier lê die deurmekare Afrika hare.

Woes en verleë, soos my hart.

Jy baklei vir jou hart soos Westerse Barbare.

Jy baklei meestal teen jou eie smart.

Ek is nie gewoonlik iemand wat iemand anders se grondstowwe wil steel nie.

Jou wil uitdelf en jou naaktheid besigtig.

Jou afrokkel en jou met niemand wil deel nie.

Om te droom oor jou is giftig.

Ek wens ek kon die pyn en smaad uit jou oë uit kerf.

Dit wat jou vuil laat voel koester.

Met my hande oor jou lyf-grond ‘n meesterstuk verf.

Aan jou raak, voel soos gister.

Ek sien in jou oë ‘n diepe gedrang.

Jou vinnig weg kyk vra of jy goed genoeg is.

Na iets wat jy weet jy verlang.

Jy kleef aan mense soos ‘n Psalm aan ‘n gesang.

Ek wonder of ek bevoeg is.

Ek is bang.

Hier lê jy. Rou en ongetem. Die mooiheid lê in die krake van jou stem. Jou diepste waarde lê in dat jy nog nie skoon is nie. Dat jy nog nie alles gewoon is nie. Alles wat jy dink jy verstaan van jou waarde is onwaar. Die wêreld verkoop ‘n kunsmatige wensdroom aan die jongmens. Jou drome is om in ‘n winkel se vertoonkamer te lê waar niemand jou kan bekostig nie. Hulle kyk na hulle eie refleksies in die venster vas. Vinnig verras. Hoë prys. Klein reis. Terwyl jou reis jou ‘n groot prys gekos het.


Jou redding sal kom wanneer jy agter kom jy’s nie goed genoeg vir enige iemand nie. Ons was nooit gemaak om goed genoeg te voel nie. Want die diamante by die ander winkel is groter en mooier gesny as jy. Jou redding lê daarin dat jou waarde nie afhang van hoeveel iemand vir jou sal betaal nie. Jou waarde lê in jou rouheid. In jou lelikheid, wat vir iemand anders mooi is. Wanneer iemand jou ophou teen die son en jou reënboog kleure hul verskyning maak.


Redding kom nie van hoe jy gesny is nie, maar dat jy van verskillende sye af mooi is op verskillende maniere. Elke dag kan ‘n avontuur wees om jou van verskillende hoeke af te besigtig. Jou weg te lig. Op te lig en in te lig. Dis eers hier waar die lig deur jou skyn waar jou waarde deur jou sal skyn soos ‘n vuurtjie hoop bring in ‘n donker grot, so sal jou lig op die regte hoek vir mense hoop bring wat om jou staan.

Deurgrond. Deur grond. Van grond tot grond. Van stof tot stof. Dis in die stof waar Jesus gaan skribbel het toe hy die vrou van owerspel vergewe het. Hier, deurgrond hy haar hart, maar bring ook die Fariseërs tot stof. Dis ook hier in jou grondstofheid dat jou wesenlikheid die grootste werklikheid sal word. Wanneer jy agter kom dat dit die grond is wat die stof waardevol maak dan sal jy begin lief raak vir die grond in jou lewe.


Jou kaalvoete op die gebreekte borskas van God. Daar waar hy Sy eie hart uitgeruk het en gekyk het hoe dit aan ‘n boom vas gespyker word. Haar arms wat om God se nek vou. Liefde wat die vere van ons verlede omvou met ‘n vieslike verwesenlike vrede. Hy hou al haar oop geskeurde wonde toe met sy hande. Groot genoeg om die bloed op te vang en dit te laat terug trek in haar liggaam. Daar waar die wond nog rou is, daar druk Hy Sy vingers diep in om die pyn agter die wond te genees. Gees gee gou goue genade. Goue genade wat genees dit wat gebreklik gegee is. Gee jou neus sodat jy Sy hees stem van genesing kan ruik.


Dit was aand.

Dit was more.

Dit was goed.


bottom of page