top of page

Aan jou.


Aan jou,

Dis ‘n Dinsdag.

Soos ek weg ry van jou af begin my siel rond spring in hierdie dop van my. ‘n Paar minute by jou maak dat daar energie deur my are vloei vir dae aan een. Ek het regtig hard probeer wegsteek hoe ek voel oor jou, maar terwyl ek voor jou staan hardloop my hart ‘n harde resies binne my. Die woorde staan met valskerms op my tong reg om te spring.

Geen manipulasie die keer nie.

Vorige kere het ek onbewustelik my hart voor joune geplaas, maar nie die keer nie.

Hoe kan ek vir jou iets gee wat ek nie het nie?

Hoeveel keer was dit al so dat daar bevestiging in my hart was dat jy die een is wat al die ander uitskakel. Jy’s die een wat maak dat ek die agterdeur toe spyker met dieselfde spykers as wat deur Jesus se gewrigte geboor het. Onwankelbaar wikkel ek deur die woede. Soos op daardie donker dag tap die bloed ook nou uit my uit, maar hierdie keer ly ek vir ‘n goeie rede.

Lyding wat vrymaak.

Ek weet nie wat dit is aan jou wat maak dat my hart vol raak met nuwe vars lewe nie. Soos dié van ‘n vars lemmetjie groen blaar in Victoria Straat. Ek weet nie van waar af hierdie gevoelens spruit nie, net dat my lewe nie vol is sonder dit nie. Wys my waar die stroom vandaan kom. Wys my waaruit loop jou hart. Kom raak hier aan my gebreekte borskas en kom leer my om my verlede skoon te was. Die vere van my Vader vorm die vrede van vandag. Sonder rigting is dit moeilik om jouself te wees. Kom dui my rigting aan. Span my seile so dat ek die winde van die lewe kan gebruik om my nader aan jou hart te laat vaar. Ek moet aanvaar dat ek die een was wat jou laat vaar het. Laat my los in die onbekende. Oor die horison.


Dis hier waar ons onsself verloor het toe ons uit mekaar was dat ons van voor af moet leer hoe ons vingers in mekaar in vleg. Dis hier, eers toe ons onsself verloor het, dat ons mekaar op ‘n ander pad raak geloop het. ‘n Damaskus pad. ‘n Pad wat gelyk het asof dit reënerig en donderweeragtig is, maar toe leer jy my dans in die reën op die ritme van die wolk dromme.

Soos ‘n voël sweef jy egalig deur my gedagtes. Jou engel vere vlerke omvou my verlede. Ek was lanklaas so omvou deur die vryheid van liefde. Jou hand bly ‘n oomblik langer op my skouer toe ons wegstap van mekaar, nes die herinnering.

Ek het jou herinnering of het dit my?

Dis hier waar ek voel dis net jy wat my kan lief hê soos ek lief gehê moet word. Ek weet hierdie klink selfsugtig, maar dink daaraan... jy het die liefde vir iemand ontwikkeling wat daardie persoon ten volle mens laat word. Jy het die kuns aangeleer om iemand tuis te laat voel in ‘n vreemde land. Selfs nou waar ek in ballingskap is in ‘n vreemde land voel ek tuis deur die gedagte van jou liefde. Dis juis hier op hierdie eiland wat ek eers besef het wat ‘n tuiste is, nou dat ek so ver van die huis af is. Stuur tog ‘n reddings bootjie waarop ek my hart kan laai en vir jou terug stuur oor die golwe.

God.

Dit is jy.

Jy is hier.


bottom of page